contents

Inleiding tot die Resolusies van die
Politieke Raad van die Kaap die Goeie Hoop


Benamings van funksionarisse

In die Resolusies van die Politieke Raad word na ’n verskeidenheid ampte en titels verwys. Sommige daarvan is tans in Nederlands verouderd, maar nog in Afrikaans gebruiklik, hoewel soms in ’n ander betekenis en/of geskiedkundige verband.

  • Die opperhoof (Ndl. opperhoofd) was ’n aanvoerder van ’n leër of vloot, gesaghebber van ’n skip, of bestuurder van ’n nedersetting in die kolonies. Dit het ook verwys na die hoof van ’n inheemse stam, tans by uitstek die betekenis wat in Afrikaans geld.
  • Die kommandeur (Ndl. commandeur) was ’n militêre gesaghebber of bevelhebber oor ’n vesting, garnisoen of nedersetting, asook ’n skeepsgesaghebber.
  • Die goewerneur (Ndl. gouverneur) letterlik ‘bestuurder’, was ’n verteenwoordiger van die oppergesag en iemand wat met gesag oor ’n gebied, byvoorbeeld ’n kolonie, beklee was.
  • Die sekunde (Ndl. secunde uit Latyn secundus, ‘tweede’) was ’n plaasvervanger; dus tweede in bevel en plaasvervanger van die kommandeur of goewerneur.
  • Die koopman, ook commies genoem, was die amptenaar aan boord van koopvaarders (in die besonder skepe van die sogenaamde “voorcompagnieën” en later veral van die VOC) wat met die leiding van handelsake belas was. Die woord koopman was ook ’n rangsaanduiding by die VOC, nader gespesifiseer as onderkoopman, koopman en opperkoopman.
  • Die fiskaal (Ndl. fiscaal) was ’n regterlike amptenaar wat gewaak het oor die nakoming van die wette en die orde; hy het ’n klompie geregsdienaars gelei en was die openbare aanklaer. Die Here Sewentien het die fiskaal in 1688 “independent” verklaar, alleenlik aan hierdie hoogste gesag verantwoordelik.
  • Die sekretaris (Ndl. secretaris) was ’n amptenaar wat namens ’n ander of vir ’n liggaam die briefwisseling gevoer of gelei het, stukke opgestel het, ens. Die sekretaris moes die vergaderings van die Raad bywoon en ’n eed van geheimhouding aflê. Hy het geen stem in die Raad gehad nie, maar moes al die resolusies mede-onderteken, asook sy handtekening heg aan attestasies, obligasies, briewe en verbande. Verder moes hy aktes waarmerk en aan die betrokke persone verduidelik.
  • Die weesmeester of weesheer was ’n bestuurslid van die Weeskamer. Die Weeskamer was ’n instelling wat toesig gehou en beheer uitgeoefen het oor die besittings van wese en die erfporsies van onbekendes. Kort na die Britse besetting is die Weeskamer vervang deur die Meesterskantoor.

Top


vorige Inhoudsopgawe van Inleiding volgende

Site by Hic et Nunc