contents

Inleiding tot die Resolusies van die
Politieke Raad van die Kaap die Goeie Hoop


Vryburgers

Volgens opdrag van die Here Sewentien moes Jan van Riebeeck ’n fort bou, ’n hospitaal vir siek seelui oprig, vrugte- en groentetuine aanlê, koringlande voorberei om graan aan die skepe te voorsien, en beeste deur ruilhandel met die Khoi in die omgewing van die nedersetting verkry. Dit het hy gedoen.

Van Riebeeck het egter gou na sy aankoms, al in 1652 en 1653, gewens dat die Bewindhebbers vir hom “vrije luijden” sou stuur om die grond te help bewerk, omdat die VOC-dienaars te min was om al die nodige arbeid te verrig. Aangesien die koringopbrengs aan die Kaap onvoldoende was om in die skepe se behoeftes te voorsien, moes die Bewindhebbers in 1655 vir Van Riebeeck toestemming gee dat van die amptenare uit die diens tree en toegelaat word om koring te kweek by Rondebosch, wat ’n geskikter omgewing was maar ’n ent van die Fort geleë. Hulle sou vir eie wins werk en bekwamer as die betaalde amptenare boer. Al die landbouers se produkte en beeste moes egter aan die Kompanjie verkoop word. In Februarie 1657 het die eerste nege vryburgers hul plase aan die Liesbeekrivier, wat toe die amptelike grens geword het, ontvang. Teen 1659 was 84 morg grond al bewerk. In 1662 was daar reeds 60 vryburgers, die meeste koringboere. Die ander vryburgers het hulle in die omgewing van die Fort as onder andere messelaars, kroegbase, skrynwerkers en vissers gevestig.

Daar moes voortdurend vars vleis aan die Kompanjie gelewer word om te kon voldoen aan die behoefte van die plaaslike mark en van die skepe wat vars voorraad aan boord moes neem. Vanweë die Khoi se nomadiese leefwyse agter weiveld vir hul kuddes aan, moes Kompanjiesamptenare gereeld die binneland verken op soek na groepe by wie vee geruil kon word. Die skape en beeste wat van die Khoi verkry is, is op veeposte by “de Schuur”, Steenberg, Saldanhabaai, Tygerberg, Eersterivier en Vishoek versorg. Veeboerdery het begin veld wen en in 1678 is daar aan vier vryburgers weiregte langs die Eersterivier toegeken.

Simon van der Stel het tydens sy bewind grootskaalse immigrasie van mense uit die Nederlandse en omliggende Europese gebiede aangemoedig. Die blanke bevolking het toegeneem en die nedersetting het tot ’n kolonie uitgebrei. Kommissaris-generaal van Rheede tot Drakenstein beveel in 1685 aan dat emigrasie uit Europa aangemoedig word vir die doeleindes van verdediging van die Kaap as VOC-besitting. Gevolglik emigreer ’n redelike aantal Nederlandse en Duitse setlaars. Om die tekort aan vroue effens te probeer verlig, is ’n klein aantal weesmeisies uit Amsterdam en Rotterdam gewerf om te emigreer. Die eerste dorpe, naamlik Stellenbosch en die Paarl, is gestig.

Die herroeping van die Edik van Nantes deur die Katolieke Franse koning in 1685, het nie net in Frankryk en omliggende lande ernstige gevolge gehad nie, maar het ook die samestelling van die Kaapse bevolking beïnvloed. Godsdiensverdraagsaamheid teenoor die Protestante (Hugenote) in Frankryk, is onmiddellik na die herroeping deur bloedige vervolging en moord vervang. Honderdduisende Hugenote het uit Frankryk gevlug en hulle in omliggende lande, waaronder Vlaandere en Nederland, gevestig. Die Here Sewentien het veral in hierdie mense belang gestel as wynboere, ’n beroep wat hulle later aan die Kaap met onderskeiding beoefen het. In 1688 kom die eerste groep “Franse vlugtelingen” (30.12.1693, C. 27) per skip in Tafelbaai aan. Hoewel daar uiteindelik net ongeveer 280 Hugenote was, het hulle ’n groot invloed op die Kaapse gemeenskap gehad. Hulle gaan woon veral in die “Fransse Hoek” (15.6.1717, C. 42), maar word deur ondertrouery met die Nederlanders en Duitsers volkome deel van die gemeenskap.

Omdat Simon van der Stel enige groepvorming deur ‘vreemdelinge’ wou verhoed, het hy opdrag gegee dat die Hugenote “vermengd met Duijtsche natien te mogen woonen ... omtrent 150 koppen, so mannen als vrouwen” (28 Nov. 1689, C. 20). Een derde van die Kaapse Hugenote, dus 58 persone, was afkomstig van die historiese Vlaandere, waarby die huidige Frans-Vlaandere ingesluit was. Hulle het uit drie streke gekom, naamlik die huidige Vlaandere, die Ryselse streek en die gebied rondom Calais. Die feit dat baie van die Hugenote uit Frans-Vlaandere Vlaamstalig of Vlaamskundig was, het bygedra dat hulle heel vlot in die Kaapse omgewing aangepas het. Hulle was die brugbouers tussen die Franstalige Hugenote en die Nederlandssprekende ingesetenes, aangesien baie Frans-Vlaamse Hugenote tweetalig was. Vir die Hugenote was hul Gereformeerde geloof egter die belangrikste. Wat geloof- en kerksake betref, het Frans aanvanklik wel ’n heel belangrike rol gespeel. Hulle dring aan op ’n Franssprekende predikant, ds. Simond (C. 20) wat kerkdienste en seremonies in Frans gehou het. Korrespondensie deur die Franse kerkraadslede en gemeentelede aan die Raad moes egter in Nederlands vertaal word voordat die inhoud daarvan deur die Raadslede oorweeg is.

Hoewel die landbou goed op dreef was, het die vryburgers eerder met vee as met koring en wyn geboer. Teen ongeveer 1710 was daar dus al ’n aantal veeboere en binne die volgende geslag het hulle en hul gesinne van een weiveld na die ander al hoe meer ooswaarts getrek. Teen 1750 was die trekboere reeds ver gevorder op pad na die Sondagsrvier aan die oostekant van die Kolonie. Hul gebiedsuitbreiding het ’n lang en bitter konflik met die San veroorsaak. In 1760 bereik die eerste Trekboere die omgewing van die huidige Beaufort-Wes in die Groot-Karoo, en in 1770 kom hulle in die Cambdebo aan waar hulle ook Xhosa-stamme by die Visrivier teenkom. In 1778 het goewerneur Van Plettenberg ’n inspeksietoer aan hierdie gebied gebring en afsprake oor die grens gemaak, wat deur nóg die Trekboere, nóg die Xhosas eerbiedig is (sien sy verslag in Godée Molsbergen IV, asook Ekspedisies).

Top


vorige Inhoudsopgawe van Inleiding volgende

Site by Hic et Nunc