contents

Inleiding tot die Resolusies van die
Politieke Raad van die Kaap die Goeie Hoop


Slawe

Omdat soveel werk te doen was in dié jong nedersetting en dit steeds toegeneem het namate die Kolonie uitgebrei het, was daar voortdurend ’n groot tekort aan en vraag na arbeiders. Daar was ’n mate van arbeid in die oestyd en later as veewagters, deur die Khoi, maar dit was onvoldoende. Aangesien daar heeltemal te min VOC-dienaars en vryburgers was om die werk te doen, was die enigste uitweg om van slawearbeid gebruik te maak. Slawe is nie net in die Kaap gebruik nie, maar was later ook op die platteland in groot aanvraag.

Op 28 Maart 1658 bereik die skip Amersfoort die Kaap met die eerste vrag slawe vir hierdie land, naamlik 174 Angolese aan boord. Tydens die Raadsvergadering van 8 Mei 1658 (C. 1) word berig dat die Hasselt twee dae tevore vasgemeer het met 228 slawe en slavinne aan boord. Onderweg is 43 van hierdie groep slawe wat by Popo (vroeër by Arder, tans Lagos) verhandel is egter dood. Daar is besluit dat die Hasselt na Batavia sou vertrek “en daarmee af te senden een getal van 140 a 150 stucx slaven”. Op die vergadering van 30 Mei 1658 (C. 1) word berig dat 200 slawe daagliks deur die Kompanjie gevoed moes word. Op 28 Augustus 1658 (C. 1) hoor die Raadslede van Guinese en “Angoolse” slawe wat weggeloop het. Tydens die Raadsvergadering van 26 Oktober 1678 (C. 13) verneem die Raad dat slawe op Madagaskar ingekoop is, maar dat hulle direk vandaar na die weskus van Sumatra geneem sou word. Hierdie soort verslagdoening in die Resolusies kom gereeld tot aan die einde van die VOC-tydperk aan die Kaap voor.

Die slawe wat na die Kaap gebring is, was veral afkomstig van die eilande van Indonesië, Bengale in die noordooste van Indië, die Kus van Koromandel in Suid-Indië, Maleisië, Madagaskar en die kuste van Afrika, onder andere Guinee, Angola en Mosambiek. Volgens die slawehandelaars en -eienaars was die slawe uit Madagaskar besonder geskik vir die landbou, terwyl die Angolese slawe swaar arbeid kon verrig. Die slawe uit Indië en sommige plekke in Indonesië is besonder gewaardeer vanweë hul vaardighede as ambagsliede.

Die slawe en slavinne van Bengale het na hul vrystelling skynbaar die beste in die Kaapse samelewing gevaar. Die eerste vrygestelde slavinne was Katrina van Bengale, Maria van Bengale en Angela van Bengale. Op 14 Maart 1680 (C. 14) word Maria van Bengale se versoek om vrystelling aan die Raad voorgelê en goedgekeur. Oor Angela van Bengale(n) se lewe waarvan meer bekend is, die volgende: In 1655 koop Jan van Riebeeck dié slavin by Pieter Kemp. Toe Van Riebeeck se kleindogter, Johanna Maria, die Kaap in 1710 besoek, skryf sy in ’n brief van “Ansiela” wat haar vader en sy broers en susters (die Van Riebeeck-kinders) opgepas het. Sy skryf verder dat Ansiela later met ’n Hollander getroud is en dat haar dogter die vrou van kaptein “B.” was. Dit is inderdaad so dat “Maai/Mooi” Angela, ook genoem Ansiela, ná haar vrystelling met Arnoldus Basson getroud is en die stammoeder van die Basson-familie in Suid-Afrika geword het. Terwyl Angela nog ’n slavin was, is haar dogter, Anna de Koning, uit ’n buite-egtelike verhouding met ’n Europeaan gebore. Anna was nie net mooi van aansien met fynbesnede gelaatstrekke nie, maar was ook geletterd en het met ’n vaste hand dokumente onderteken. Sy was met kaptein Oloff Bergh getroud en het op haar beurt die stammoeder van die Bergh-familie in Suid-Afrika geword.

Tydens die Raadsvergadering van 8 Mei 1686 (C. 18) word Maria Schalck, Armosyn van die Kaap en Jannetje Bort, al drie slavinne op die wynlandgoed Constantia, vrygestel op grond daarvan dat hulle gedoop en van “Christe” vaders was. Dit is ook opvallend hoe dikwels slavinne wat minnemoeders was, vrygestel is. So ’n vrou is in diens geneem om ’n kindjie te soog. Hierdie minnemoeders het op indirekte wyse tot die bevolkingsaanwas bygedra, want terwyl hulle die babas gesoog het, kon die moeders van die kindertjies gouer weer swanger raak.

Wat eienaars betref, kon die Kaapse slawe in drie groepe verdeel word, naamlik diegene wat behoort het aan die Kompanjie, die Kompanjiesdienaars en die vryburgers. Daar was ook vryswartes wat slawe besit het, onder meer die Maleier Intje Aallan van “Mano Capo” oor wie daar in ’n versoekskrif in die Raadsnotule van 14 April 1733 (C. 92) gemeld word: Drie jaar na sy dood dien sy twee vrygelate slawe Manus van Bouton en Sabina van Macasser (wat weens ’n administratiewe fout toe nie vrystellingsbriewe ontvang het nie) ’n versoekskrif in vir die vrystelling van hul dogter, Rabbia van de Caab. In Aallan se testament waarin hulle drie as erfgename benoem is, spreek hy ook sy wens uit dat hulle vrygestel sou word. Abraham de Haan (ook genoem Abraham Ade Haan en Ibrahim Adehaan) en die vryswarte Hercules Valentijn was bereid om as borge op te tree indien enige van hulle drie binne ’n bepaalde tyd die diakonie tot las sou wees. Aangesien daar nie eksekuteurs aangestel was nie, is die versoekskrif aan Raad gerig om vrybriewe aan die ouers en dogter toe te staan. Die Raad het die versoek goedgekeur.

Dit het talle kere gebeur dat slawe of slavinne aansoek doen om uit slawerny ontslaan te word en dat hierdie versoek voor die Raad gedien het. Indien ’n slaaf of slavin die Heilige Doop ontvang het, die “Nederduijtsche” taal kon praat en ’n “kloeke” mansslaaf in sy/of haar plek aan die Kompanjie kon bied, of as dít nie moontlik was nie, ’n bepaalde bedrag gelykstaande aan ’n sterk, jong slaaf betaal, het hy/sy ’n vrystellingsbrief by die Raad ontvang: “Terwijl Laatstelijk nog uijt slavernij sijn ontslagen en in vrijdom gesteld seekere Slavinne der E. Comp:nie gen:t Johanna van Elsje van Mulder van de Caab en haar soontje Jacobus van Johanna van Elsje, als sijnde d’ eerste gedoopt en de hollandse Taal magtig, mits dat sij soo voor haar als haar soon aan d’ E. Comp: komt te betaalen een somma van Een hondert en vijftig guldens Indische valuatie” (26.9.1747, C. 125). In die volgende geval is aan ’n manslaaf vrystelling verleen: “Laatstelijk is seekere ’s Comp:s slaaf gen:t Cornelis van Marij van Calmeronde uijt aanmerkinge dat hij het Sacrament des H: Doops heeft ontfangen, en daar en booven ook in de Needer duijtsche Taal seer wel is ervaaren, op sijn versoek uijt slavernije ontslaagen en in vrijdom gesteld, sijnde den slaaf die door denselven aan d’ E. Compagnie in sijn plaats aan gepresenteert word gen:t Paris van Macasser bij visitatie bevonden te weesen van de verEijschte bequaamheeden” (30.7.1748, C. 126). Daar kom talle soortgelyke voorbeelde in die Resolusies voor.

Met die koms van die slawe na die Kaap, moes Van Riebeeck toesien dat niemand Portugees, die lingua franca in Asië, met slawe praat nie en dat geen ander taal as “ons Moedertaal” teenoor hulle gebruik sou word nie. Die Kompanjieslawe se kinders het onderrig in Nederlands ontvang, hetsy in die slawelosie of in die ander Kaapse skole. Dit blyk dat die slawelosie se “Schoolmeesters” van wie daar in die Resolusies berig word, die “Neederduijtsche Taal” volkome magtig was: Hans Jacob Jurgen van de Caab, op die boeke bekend as Hans Jacob van Mariabeen, doen aansoek om vrygestel te word (2.6.1744, C. 122); hy kon Nederlands vlot praat en was toe reeds omtrent 15 jaar skoolmeester. Ook Christoffel van Simosia wat al 19 jaar skoolmeester in die slawelosie was, vra om vrygestel te word (27.4.1751, C. 129), maar stem op versoek van die Raad in om na sy vrystelling nog enkele jare in sy pos waar te neem. Een van die vereistes om uit slawerny vrygestel te word, was juis die bewys dat die aansoeker die “Neederduijtsche Taal” volkome magtig was.

In die Resolusies is nie net oor slawe en die slawehandel berig nie, maar besluite wat die alledaagse lewe van hierdie mense geraak het, is ook deur die Politieke Raad geneem. So byvoorbeeld is daar tydens die Raadsvergadering van 30 Maart 1717 (C. 41) ’n plan ingedien vir die vergroting van en verbeterings aan die slawelosie of “slavenhuijs”: Die oppervlak van 180 vt. x 85 vt. word vergroot tot 230 vt. x 85 vt. Daar kom ’n groot binnehof; nuwe ingang; materiaalhokke en provisiekamers waarin ook brandemmers gehou moes word; ’n wooneenheid vir Hollandse mandoors; ’n wooneenheid vir inlandse mandoors en skoolmeesters; ook ’n trap na bo. Die hele ruimte op die tweede verdieping is toegesê aan die slawe en slavinne wat as pare saamwoon, en skoolseuns. Daar is ook twee beslote secrete (‘toilette’) vir onderskeidelik slawe en slavinne, met aflope vir rioolinhoud; ingange en trappe word voorsien; as beskerming teen die Suidoostewind, is daar deure aan albei kante van die kombuise; ’n deurgang lei tot ’n nuwe, klein binneplein na wooneenhede in ’n enkelverdiepinggebou, as woonplek van die matres (Ndl. ‘schoolmeesteres, houdster van een bewaar- of kleuterschool’, betekenis tans verouderd) en siekemoeder, vir die skooldogters, en vir siekes, bejaardes en gestremdes. Verder word die skool en ’n vertrek vir die kommissarisse of opsigters van die slawelosie, ook hier ingerig.

Top


vorige Inhoudsopgawe van Inleiding volgende

Site by Hic et Nunc